Die Klein Kategismus

van Martin Luther
Kies ’n taal Meer Oor

Kerk en Huis

Kerk en Huis

Bepaalde skrifgedeeltes wat die verskillende heilige ordes en stande oor hulle pligte en verantwoordelikhede teregwys

Oor ampsdraers van die kerk

’n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou, nugter, verstandig, beskaaf, gasvry en bekwaam om te onderrig; hy moenie aan drank verslaaf of ’n rusiemaker wees nie, maar inskiklik, vredeliewend en nie geldgierig nie. Hy moet sy eie huisgesin goed kan beheer en in alle opsigte op waardige wyse gesag oor sy kinders kan uitoefen. 1 Tim 3:2-4

Hy moet ook nie iemand wees wat maar onlangs tot geloof gekom het nie. So iemand kan verwaand word, en dan tref dieselfde oordeel hom as vir die duiwel. 1 Tim 3:6

Hy moet vashou aan die betroubare woord waarin hy onderrig is. Dan sal hy in staat wees om ander deur die gesonde leer aan te moedig en die argumente van teenstanders te weerlê. Tit 1:9

Eerbetoon deur gelowiges aan hulle voorgangers

So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang. 1 Kor 9:14

Iemand wat onderrig ontvang in die Woord van God, moet sy leermeester laat deel in al die goeie dinge wat hy het. Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes. Gal 6:6-7

Die ouderlinge wat goeie leiding gee, behoort dubbele erkenning te kry, veral dié wat hard werk deur te preek en onderrig te gee, want die Skrif sê: “Jy mag nie ’n bees waarmee jy graan dors se bek toebind nie” (Deut 25:4), en “Die arbeider is geregtig op sy loon” (Luk 10:7). 1 Tim 5:17-18

Broers, ons vra julle: erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle terwille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar. 1 Tess 5:12-13

Julle voorgangers hou wag oor julle lewens en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir hulle geen nut nie. Heb 13:17

Eerbetoon deur gelowiges aan die owerheid

’n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie, maar wel as jy kwaad doen. Wil jy sonder vrees vir die owerheid lewe? Doen dan wat goed is, en die owerheid sal jou prys, want die owerheid is ’n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat hy die kwaaddoener moet straf. Rom 13:1-4

Oor burgerskap

Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort en aan God wat aan God behoort. Matt 22:21

Daarom moet jy jou onderwerp, nie net omdat jy vir straf bang is nie, maar ook omdat dit ’n gewetensaak is. Dit is ook waarom julle belasting betaal want die owerhede is dienaars van God en hulle is besig om hulle opdrag uit te voer. Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is. Rom 13:5-7

Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense. Vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser. l Tim 2:1-3

Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. Tit 3:1

Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is, of die goewerneurs as sy gevolgmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys. 1 Pet 2:13-14

Aan die eggenoot

Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder. 1 Pet 3:7

Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie. Kol 3:19

Aan die eggenote

Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. Ef 5:22

Sara, byvoorbeeld, was aan Abraham gehoorsaam en het met eerbied na hom verwys. As julle doen wat goed is, en julle nie deur dreigement laat afskrik nie, is julle haar dogters. 1 Pet 3:6

Aan ouers

En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here wil. Ef 6:4

Aan kinders

Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis. “Eer jou vader en jou moeder” is ’n baie belangrike gebod. En daar is nog ’n belofte by: “... sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op aarde.” Ef 6:1-3

Aan werknemers

Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met ’n opregte hart, asof dit vir Christus is. Moenie net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie; werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen. Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie. Julle weet tog dat die Here elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het, of hy nou ’n slaaf is of vry. Ef 6:5-8

Aan werkgewers

En eienaars, behandel julle slawe met dieselfdegesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie. Ef 6:9

Aan die jeug

En julle wat jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Trouens, almal moet teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. 1 Pet 5:5-6

Aan weduwees

’n Weduwee wat alleen agtergelaat is en niemand het om vir haar te sorg nie, vestig haar hoop volkome op God en volhard dag en nag met smeking en gebede. Maar ’n weduwee wat uitspattig lewe, is dood, al leef sy nog. 1 Tim 5:5-6

Aan almal

Al die gebooie, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Rom 13:9

Daar moet gebid word vir alle mense. 1 Tim 2:1