Daaglikse Gebede
Die manier waarop die hoof van die huis sy mense moet leer om soggens en saans te bid
Oggendgebed
Met opstaan soggens mag die teken van die kruis gemaak word gevolg deur die woorde:
In die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
Bly regop staan of kniel terwyl die Geloofsbelydenis bely en die Onse Vader gebid word. ’n Vrye gebed kan ook gebid word.
Ek dank U, Hemelvader, deur Jesus Christus, u geliefde Seun, dat U my in hierdie nag teen skade en gevaar beskerm het. Ek bid U: beskerm my vandag teen sonde en kwaad sodat wat ek doen en hoe ek lewe, tot U eer sal wees; daarom gee ek myself, my liggaam en siel, en alles wat aan my behoort, in u hande. Mag u Heilige Gees met my wees sodat die duiwel geen mag oor my sal hê nie. Amen!
Nou kan jy met ’n lied in die hart jou dagtaak tegemoetgaan.
Aandgebed
Dieselfde riglyne soos vir die oggendgebed, kan weer gevolg word.
Ek dank U, Hemelvader, deur Jesus Christus, u geliefde Seun, dat U my in hierdie dag beskerm het. Vergewe my my sonde en die kwaad wat ek gedoen het, en bewaar my in hierdie nag. Ek gee myself, my liggaam en siel, en alles wat aan my behoort, in u hande. Mag u Heilige Gees met my wees sodat die duiwel geen mag oor my sal hê nie. Amen!
Die manier waarop die hoof van die huis sy mense moet leer om die seën te vra en dankie te sê
Voor die ete
Die gesin nader die etenstafel ootmoedig en bid Ps 145:15-16:
Die oë van almal is op U gerig en U gee hulle kos op hulle tyd. U maak u hand oop en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef. Here God en Hemelvader, laat al u gawes wat ons so mildelik ontvang, ons tot seën wees. In die naam van ons Here, Jesus Christus. Amen!
Na die ete en steeds ootmoedig
Ps 136 en Ps 147. Loof die Here want hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie. Hy gee voedsel aan al wat lewe; Hy gee aan die diere hulle weiding en versorg die jong kraaie wat om kos skreeu. Die Here het niks aan die krag van ’n perd of die liggaamskrag van ’n soldaat nie, maar Hy stel prys op dié wat Hom dien, dié wat hul hoop op sy trou vestig.
Ons sê saam Die Onse Vader, en sluit af met die woorde:
Ons dank U vir al u weldade, Here God en Hemelvader, deur Jesus Christus ons Here, wat saam met U en die Heilige Gees, vir ewig leef en regeer. Amen!