Die Klein Kategismus

van Martin Luther
Kies ’n taal Meer Oor

Christelike vrae en antwoorde

Christelike vrae en antwoorde

Selfondersoek vir gelowiges met die oog op deelname aan die Sakrament van die Altaar (Heilige Nagmaal)

Na die bieg en onderrig in die Tien Gebooie, die Geloofbelydenis, die Onse Vader en die Sakramente van die doop en altaar / nagmaal, mag die biegvader vra, of gelowiges kan hulleself die volgende vra:

1. Glo jy dat jy ’n sondaar is?

Ja, ek glo dat ek ’n sondaar is.

2. Hoe weet jy dit?

Ek weet dit uit die Tien Gebooie wat ek nie gehoorsaam het nie.

3. Het jy berou oor jou sonde?

Ja! Ek betreur dat ek teen God gesondig het.

4. Watter loon op jou sonde het jy van God ontvang?

Sy toorn en onguns, tydelike dood en ewige veroordeling.

5. Hoop jy om salig te word?

Ja, dis my vaste vertroue.

6. Op wie vertrou jy dan?

Op my liewe Here, Jesus Christus.

7. Wie is Christus?

Die Seun van God - ware God en ware mens.

8. Is daar meer as een God?

Nee, net God, maar drie persone - Vader, Seun en Heilige Gees.

9. Wat het Christus vir jou gedoen dat jy op Hom vertrou?

Hy is vir my gekruisig, het gesterwe en sy bloed tot vergifnis van my sonde gestort.

10. Het die Vader ook vir jou gesterf?

Nee, omdat die Vader alleen God is, net soos die Heilige Gees, maar die Seun is sowel ware God en ware mens en Hy het vir my gesterf en sy bloed vir my gestort.

11. Hoe weet jy dit?

Deur die heilige evangelie en die woorde van die instelling van die nagmaal waar sy liggaam en sy bloed in die sakrament aan my as waarborg gegee word.

12. Hoe lui die instellingswoorde?

Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

Net so het Hy ook na die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

13. Glo jy dan dat die ware liggaam en bloed van Christus in die sakrament teenwoordig is?

Ja! Ek glo dit.

14. Wat beweeg jou daartoe om dit te glo?

Die woorde van Christus: “Neem en eet, dit is my liggaam”; en, “drink almal daaruit, dit is my bloed.”

15. Wat behoort ons te doen wanneer ons deel het aan sy liggaam en sy bloed in die sakrament en op hierdie wyse sy belofte ontvang het?

1 Kor 11:25 Ons moet dit onthou en ook verkondig dat Hy vir ons gesterf het en sy bloed vir ons gevloei het: “Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis”.

16. Waarom moet ons sy dood onthou en dit verkondig?

Eerstens: Sodat ons mag leer dat niks en niemand meer vir ons sondevergifnis kon doen nie as Christus - ware God en ware mens. Tweedens: Dat ons die erns van ons sonde besef. Derdens: Dat ons vreugde en troos in Christus mag vind en deur geloof in Hom verlos mag word.

17. Wat het Christus die soendood vir ons sonde laat sterf?

Sy oneindige liefde vir sy Vader, vir my en vir sondaars volgens Joh 15:13, Rom 5:8, Gal 2:20 en Ef 5:2.

18. Waarom wil jy die sakrament gebruik?

Sodat ek daardeur gelei kan word om te glo dat Christus uit liefde, vir my sonde gesterf het maar om ook van Hom te leer om God en my naaste lief te hê.

19. Wat spoor die gelowige aan om die nagmaal dikwels te gebruik?

Eerstens: Die gebod en die belofte van Christus die Here. Tweedens: Die gelowige se eie nood en behoefte op grond waarvan die gebod, die aanmoediging en die belofte gegee is.

20. Wat staan jou te doen wanneer jy nie jou eie nood ken en geen behoefte aan die sakrament het nie?

Eerstens: Besef dat jy ’n gewone mens van vlees en bloed is en glo die woorde van Gal 5 en Rom 7. Tweedens: Besef ook dat jy nog midde in hierdie wêreld met sy sonde en ergenis volgens Joh 15 en 16 en 1 Joh 2 en 5 staan.

Derdens: Besef dan dat die duiwel met sy leuens en moord ook nog altyd daar is om jou geen vrede te gun nie. Joh 8 en 16, 1 Pet 5, Ef 6 en 2 Tim 2.

_Nota: _

Hierdie indringende vrae en antwoorde, vir oud en jonk bedoel, is met erns deur die waardige en vroom Martin Luther saamgestel. Elkeen moet hiermee rekening hou want Paulus maan ook die Galasiërs om op hierdie sake bedag te wees: Gal 6:7 “Moenie jouself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie.”.