Die Klein Kategismus

van Martin Luther
Kies ’n taal Meer Oor

Die Sakrament van die Heilige Doop

Die Sakrament van die Heilige Doop

Die hoof van die huis behoort op hierdie eenvoudige manier sy huismense van die Heilige Doop te leer.

Eerstens

Wat behels die doop?

Die doop is die bediening met water in opdrag van God en in verbinding met sy Woord.

Na watter skrifgedeelte word hier verwys?

In Matteus 28:19 beveel die Here Jesus Christus: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.”

Tweedens

Tot watter nut is die doop?

Dit bewerkstellig die vergifnis van sonde, verlossing van die dood en die duiwel. Die doop skenk volgens God se Woord en beloftes, die ewige saligheid aan almal wat tot geloof gekom het.

Watter woorde en beloftes van God het hier betrekking?

Die woorde en beloftes in Markus 16:16: “Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word.”

Derdens

Is water dan so buitengewoon?

Water alleen gee nie aan die doop beslag nie. Dit is die Woord van God waarin ons glo, wat die water met gesag beklee. Sonder die Woord van God is dit gewone water en geen doop nie. Deur die Woord van God word dit die doop met genaderyke en lewegewende water - dit is die bad van die wedergeboorte in die krag van die Heilige Gees! Die Apostel Paulus skryf in Titus 3:5-8 Nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe. Dit is ’n betroubare woord.

Vierdens

Wat beteken die doop met water?

Dit beteken dat die “ou Adam” in ons, saam met al die sondes en sondige begeertes, elke dag deur berou en belydenis, tot niet gemaak word. So kom ’n nuwe mens daagliks na vore om op te staan en ewig voor God in geregtigheid en reinheid te lewe.

Waar staan dit geskrywe?

In Romeine 6:4 skryf Paulus: Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die heerlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei.