Die Onse Vader
Die hoof van die huis behoort op hierdie eenvoudige manier sy huismense die Onse Vader te leer.
Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredinge soos ons dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in die versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen!
Die aanhef
Ons Vader wat in die hemel is.
Dit beteken: God wil ons met hierdie bede lei om te glo dat Hy ons regte Vader en ons sy regte kinders is, sodat ons Hom met vrymoedigheid en volle vertroue iets mag vra soos kinders hulle liewe vader ook vra.
Die eerste bede
Laat u naam geheilig word.
Dit beteken: Die naam van God is heilig, maar ons bid in hierdie bede dat dit ook by ons geheilig mag word.
Hoe gebeur dit? Dit gebeur wanneer die woord van God suiwer en onvervals geleer word, en ons ook soos kinders van God, heilig daarna lewe. Staan ons hierin by, liewe Vader in die hemel! Wie anders leer en lewe as wat die Woord van God voorskryf, ontheilig die naam van God onder ons. Bewaar ons daarvan, hemelse Vader!
Die tweede bede
Laat u koninkryk kom.
Dit beteken: Die koninkryk van God kom, ongeag of ons vir die koms daarvan bid of nie. In hierdie bede bid ons dat die koninkryk ook na ons toe mag kom.
Hoe gebeur dit? Dit gebeur wanneer die hemelse Vader ons sy Heilige Gees gee sodat ons uit genade sy woord glo en godsalig daarvolgens lewe, hier en nou maar ook in die ewige hiernamaals.
Die derde bede
Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
Dit beteken: God se goeie genadige wil geskied sonder dat ons daarvoor bid; maar ons bid in hierdie bede dat sy wil ook in ons mag geskied.
Hoe gebeur dit? Dit gebeur wanneer God al die magte van die duiwel, die wêreld en ons sondige natuur aan bande lê wanneer hulle wil verhinder dat ons die naam van God heilig of dat sy koninkryk kom. Maar Hy versterk ons in die geloof om aan sy woord vas te hou.
Dit is sy goeie en genadige wil.
Die vierde bede
Gee ons vandag ons daaglikse brood
Dit beteken: God gee aan almal, selfs goddelose mense, daagliks voedsel sonder dat ons daarom bid. In hierdie bede bid ons dat Hy ons dit sal laat besef sodat ons ons daaglikse brood met danksegging mag ontvang.
Wat beteken daaglikse brood? Die daaglikse brood sluit alles in wat vir die onderhoud en ook behoeftes van die liggaam nodig is soos voedsel, drank, kleding, skoeisel, huis en haard, grond, diere, geld, ’n toegewyde huweliksmaat, gehoorsame kinders, lojale werkers, ’n lojale en betroubare owerheid, goeie regering, aangename weer, vrede, goeie gesondheid, selfbeheersing, ’n eerbare reputasie, goeie vriende, betroubare bure en wat ookal nodig mag wees.
Die vyfde bede
En vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.
Dit beteken: Ons bid in hierdie bede dat ons Vader in die hemel nie ons ons sondes sal voorhou en daarom ons gebede nie beantwoord nie. Ons is dit wat ons vra nie waardig, en verdien ook nie dit wat ons ontvang nie. Nogtans bid ons dat Hy ons alles uit genade mag gee, al sondig ons daagliks en verdien niks anders as straf nie. So wil ons dan ook van harte vergewe en goed doen aan hulle wat teen ons oortree het.
Die sesde bede
En laat ons nie in versoeking kom nie.
Dit beteken: God gee niemand aanleiding om te sondig nie, maar ons bid in hierdie bede dat God ons mag behoed en bewaar sodat die duiwel, die wêreld en ons sondige natuur ons nie bedrieg tot ongeloof, wanhoop, ander groot skande of ondeug verlei nie. Al word ons versoek, is ons bede dat ons tog mag seëvier en die oorwinning behaal.
Die sewende bede
Maar verlos ons van die Bose.
Dit beteken: Ons bid in hierdie bede dat die Vader in die hemel ons van allerhande kwaad aan liggaam en siel, van goed en eer mag verlos. En wanneer ons sterfuur aanbreek, mag ’n salige einde ons beskore wees sodat ons in genade uit hierdie aardse bestaan na Hom toe geneem mag word.
Die slot
Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. * Amen!
Wat beteken Amen? Dit beteken dat ek seker mag wees dat sulke bedes deur die Vader in die hemel aangeneem en verhoor word, want Hyself het ons beveel om so te bid en Hy het belowe dat Hy ons gebede sal verhoor. Amen, Amen, dit beteken: Ja! Ja! (Dit sal so wees.)