Die Apostoliese Geloofsbelydenis
Die hoof van die huis behoort op hierdie eenvoudige manier sy huismense die geloofsbelydenis te leer.
Die eerste artikel: Die Skepping
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van die hemel en die aarde.
Dit beteken: Ek glo dat God my en ook alle ander lewende wesens geskape het. Hy het my ’n liggaam en siel gegee, oë, ore en ledemate, rede en verstand en Hy hou my hele wese steeds in stand. Hy gee my kleding en skoeisel, voedsel en drank, huis en haard, eggenote en kinders, grond, diere en alles wat ek besit. Hy voorsien daagliks en ryklik aan my alles wat ek vir die versorging van hierdie liggaam en die lewe nodig het. Hy beskerm my teen alle gevare en behoed en bewaar my van die kwaad. Dit alles skenk Hy uit sy vaderlike, goddelike goedheid en genade sonder dat ek dit verdien of werd is. Vir alles wat ek ontvang het, is dit my plig om Hom te dank, te loof, te dien en gehoorsaam te wees.
Dit is beslis waar.
Die tweede artikel: Die Verlossing
Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, vanwaar Hy sal kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Dit beteken: Ek glo dat Jesus Christus wat ewig met God die Vader bestaan en as ’n ware mens uit die maagd Maria gebore is, my Here is. Hy het my, ’n verlore en verdoemde mens, verlos en losgekoop van alle sonde, die ewige dood en die mag van die duiwel. Dit het Hy nie gedoen met goud of silwer nie, maar met sy heilige en kosbare bloed en met sy onskuldige lyding en kruisdood, sodat ek onder Hom in sy koninkryk as sy eiendom kan lewe, en Hom dien in die ewige geregtigheid, onskuld en saligheid wat aan my toegesê is, net soos Hy wat opgestaan het uit die dood, leef en regeer vir ewig.
Dit is beslis waar.
Die derde artikel: Die Heiliging
Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ’n heilige, algemene, christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, die vergewing van sondes, die opstanding van die vlees en ’n ewige lewe. Amen
Dit beteken: Ek glo dat ek nie met my eie verstand of in my eie krag in Jesus Christus, my Here, kan glo of na Hom toe kan gaan nie. Die Heilige Gees roep my deur die evangelie, verlig my met sy gawes, heilig en bewaar my in die ware geloof. Net so roep, vergader, verlig en heilig Hy die hele Christelike kerk op aarde. Hy bewaar alle gelowiges in Jesus Christus in die een ware geloof. In hierdie kerk vergewe Hy my en ander gelowiges daagliks alle sonde uit genade. By die wederkoms sal Hy my en almal wat reeds gesterf het, laat opstaan uit die dood en aan my en almal wat in Christus glo, die ewige lewe gee.
Dit is beslis waar.