Die Sakrament van die Altaar
Die hoof van die huis behoort op hierdie eenvoudige manier sy huismense van die sakrament van die Altaar (Heilige Nagmaal) te leer.
Wat is die sakrament van die Altaar (Heilige Nagmaal)?
Dit is die ware liggaam en bloed van ons Here Jesus Christus wat Hyself met die brood en wyn ingestel het vir ons gelowiges om te eet en te drink.
Waar staan dit geskryf?
Matteus, Markus, Lukas en Paulus skryf soos volg: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”
Net so het hy ook na die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”
Watter nut het die nagmaal?
Dit word beskryf met hierdie woorde: “Vir julle gegee en vergiet tot vergewing van sonde.” Dit beteken dat ons deur hierdie sakrament, vergifnis van sonde, die lewe en die saligheid gegee word. Immers, waar sonde vergewe is, daar is ook lewe en saligheid.
Hoe kan gewoonweg eet en drink soveel vermag?
Net gewoonweg eet en drink doen dit beslis nie, maar saam met die woorde: “Vir julle gegee en vergiet tot vergifnis van sonde,” word veel vermag. Benewens dat die woorde “eet en drink” ’n opdrag is, is in hierdie woorde die wese van die Sakrament opgesluit. Wie hierdie woorde glo, ontvang wat gesê en belowe is - vergewing van sonde!
Wie is dan geskik om aan hierdie sakrament deel te neem?
Om te vas, selfondersoek te doen en uiterlik voor te berei is wel nuttig, maar wie hierdie woorde glo: “Vir julle gegee en vergiet tot vergifnis van sonde” - hulle is waardig en geskik!
Wie hierdie woorde nie glo nie of daaraan twyfel, is onwaardig en nie geskik om aan die nagmaal deel te neem, want die woorde “vir julle” vereis geloof.