Die Tien Gebooie
Die hoof van die huis behoort op hierdie eenvoudige manier sy huismense die Tien Gebooie te leer.
Die eerste gebod
Ek is die Here jou God. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
Dit beteken: Ons moet God bo alles met ontsag eerbiedig, liefhê en vertrou.
Die tweede gebod
Jy mag die naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.
Dit beteken: Ons moet God met ontsag eerbiedig en liefhê, en nie in sy naam vloek, sweer, toor, lieg of bedrieg nie, maar hom in alle nood aanroep, aanbid, loof en dank.
Die derde gebod
Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.
Dit beteken: Ons moet God met ontsag eerbiedig en liefhê, sodat ons die prediking van sy woord nie minag nie maar dit heilig hou, graag hoor en leer.
Die vierde gebod
Eer jou vader en moeder dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
Dit beteken: Ons moet God met ontsag eerbiedig en liefhê sodat ons ook ons ouers en ons meerderes nie minag of kwaadmaak nie, maar hulle eerbiedig, dien, gehoorsaam, liefhê en respekteer.
Die vyfde gebod
Jy mag nie moord pleeg nie.
Dit beteken: Ons moet God met ontsag eerbiedig en liefhê, sodat ons nie ons naaste se liggaam skade berokken of leed aandoen nie, maar hom help en bystaan in alle liggaamlike nood.
Die sesde gebod
Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
Dit beteken: Ons moet God met ontsag eerbiedig en liefhê, sodat ons in woord en daad, rein en eerbaar lewe, en elkeen sy eggenote liefhê en eer.
Die sewende gebod
Jy mag nie steel nie.
Dit beteken: Ons moet God met ontsag eerbiedig en liefhê, sodat ons nie ons naaste se geld of eiendom neem of dit deur bedrog vir ons toeeien nie, maar hom help om sy besittings te beskerm en sy lewensonderhoud te verbeter.
Die agste gebod
Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
Dit beteken: Ons moet God met ontsag eerbiedig en liefhê sodat ons nie ons naaste belieg, verraai, kwaad van hom praat of beskinder nie, maar hom vergewe en goed van hom praat sodat alles tot sy beswil gebeur.
Die negende gebod
Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie.
Dit beteken: Ons moet God met ontsag eerbiedig en liefhê sodat ons nie met lis na ons naaste se huis of eiendom kyk en dit oneerlik vir onsself toe-eien nie, maar hom help om dit in stand te hou.
Die tiende gebod
Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.
Dit beteken: Ons moet God met ontsag eerbiedig en liefhê dan sal ons nie ons naaste se vrou of werkers of vee afrokkel, afpers of vervreem nie, maar hulle aanmoedig om te bly en hulle plig te doen.
Gevolgtrekking van die tien gebooie
Wat sê God van sy gebooie?
Hy sê: Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat my haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam. (Eks 20:5-6)
Dit beteken: God dreig om almal te straf wat hierdie gebooie oortree; daarom moet ons ontsag vir God hê en nie teen sy gebooie handel nie. Hy belowe genade en seën aan almal wat sy gebooie nakom; daarom moet ons Hom liefhê en vertrou en met vreugde doen wat sy gebooie ons beveel.