Die Bieg
Hoe christene geleer moet word om hulle sondes te bely en vergifnis te ontvang
Wat beteken die bieg?
“Die bieg” verwys na die Amp van die Sleutels en die Skuldbekentenis. Die belydenis bestaan uit twee dele: Deel een: Ons bely ons sonde. Deel twee: Ons ontvang absolusie* dit wil sê vergifnis van God deur die biegvader. Al spreek die biegvaders sondevergifnis uit, glo ons vas dat dit God self is wat ons vergewe.
Watter sonde moet ons bely?
Ons moet voor God bely dat ons aan alle sonde skuldig is. Dit sluit sonde in waarvan ons onbewus is soos ons in die Onse Vader bid. Voor die biegvader bely ons dié sonde waarvan ons bewus en oortuig is.
Hoe weet ons watter sondes om te bely?
Jy moet jouself aan die hand van die tien gebooie ondersoek, ongeag of jy vader, moeder, seun of dogter is, of die beroep wat jy beoefen. Was jy ongehoorsaam, ontrou of lui gewees; het jy onrus ontketen of het jy rusie gemaak; het jy iemand met woorde of dade te na gekom; het jy gesteel, jou plig versuim, kwistig gewees of leed berokken?
'n Verkorte Vorm van die Bieg
Martin Luther het ’n verkorte vorm van die privaat bieg opgestel vir algemene gebruik deur gelowiges van sy tyd.
Die biegling sê aan die biegvader:
”Ek vra u om na belydenis van my sonde te luister en my vergifnis in die Naam van God te skenk. So wil ek weer God se wil doen.”
Bely en erken nou voor God dat jy ’n sondaar is. Bely hierna daardie sonde waarvan jy bewus is en swaar op jou gemoed rus. Sluit jou belydenis af met die woorde: - Oor al hierdie dinge het ek berou. - Ek smeek U om genade. - Ek wil my opnuut aan U toewy!
Die biegvader sê aan die biegling:
“Mag God jou genadig wees en jou geloof versterk. Amen.”
Hierna vra die biegvader die biegling:
“Glo jy dat die vergifnis wat ek jou toesê, nie my vergifnis is nie, maar God se vergifnis?” Antwoord: “Ja!”
Die biegvader vervolg met:
“Laat dit dan vir jou wees soos jy glo. Op bevel van Jesus Christus, spreek ek jou vry van jou sonde, in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Amen! Gaan in vrede!”
Die biegvader kan aan die einde ’n gepaste skrifwoord aan die biegling vir bemoediging en versterking van sy geloof rig.
Wat behels die Amp van die Sleutels?
Dit is die besondere gesag wat Christus aan sy kerk op aarde gegee het om belydende sondaars hulle sonde te vergewe, maar volhardende sondaars nie te vergewe solank hulle geen berou oor hulle sonde het nie.
Waar staan dit geskrywe?
In Johannes 20:22-23 lees ons van Jesus en sy dissipels: Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”
Wat glo jy dan volgens hierdie woord?
Ek glo dat die Here se geroepe bedienaars van sy Woord, volgens God se bevel optree wanneer hulle volhardende sondaars van die christelike gemeente uitsluit, maar diegene vergewe wat berou oor hulle sonde het en hulle lewens wil verbeter. Hierdie vergifnis staan ook in die hemel vas asof Christus ons Here self hierdie vergifnis gegee het.