Die Klein Kategismus

van Martin Luther
Kies ’n taal Meer Oor

Luther se Voorwoord

Luther se Voorwoord

Martin Luther het hierdie voorwoord tot die Klein Kategismus geskryf. Hierin het hy sake van die dag aangespreek. Martin Luther het hierdie voorwoord tot die Klein Kategismus geskryf. Hierin het hy sake van die dag aangespreek.

Ek het my vergewis van die betreurenswaardige en ellendige omstandighede in die gemeentes wat ek onlangs besoek het. Dit het my gedwing om hierdie kategismus oor die christelike leer in ’n bondige, simplisties en eenvoudige formaat op te stel.

Wat ek ervaar het, was hartseer: die gewone mens, veral in die dorpe, het feitlik niks van die christelike leer geweet nie, en baie leraars het nie oor die kundigheid of kennis beskik om mense te onderrig nie. Hulle is nietemin as christene beskou, is gedoop, het die tekens van die heilige sakrament van die altaar ontvang en tog het hulle nie die Onse Vader, die Geloofsbelydenis of die Tien Gebooie geken nie. Hulle leef soos plaasdiere. Waarin hulle wel geslaag het, was om die christelike vryheid te vernietig.

Biskoppe! Hoedanig sal julle aan Christus rekenskap gee oor die mense wat julle op so ’n skandelike manier laat voortploeter het? Julle, wat nie julle plig nagekom het nie! Mag die oordeel oor julle genadig wees. Julle is so behep met die noukeurige handhawing van die sakramente, en tog is julle nie daaroor besorg dat die mense die Onse Vader, die Geloofsbelydenis, die Tien Gebooie of Gods woord enigsins ken nie. Ellende wag op julle.

Liewe broers, in die naam van die Here, pleit ek by julle wat herders en leraars is, om julle opnuut aan julle roeping en plig toe te wy, dat julle julle ontferm oor die mense wat aan julle sorg toevertrou is. Help ons om die kategismus by hulle en in die besonder by die jeug in te skerp. Doen wat julle kan, hoe gering ookal, om die mense nougeset te skool in die kategismus en wel op die volgende manier:

Eerstens is dit van uiterste belang dat die leraar nie verskillende en uiteenlopende grondtekste gebruik om mense in die Tien Gebooie, die Onse Vader, die Geloofsbelydenis en die sakramente te onderrig nie. Gebruik net een weergawe en moet nie daarvan afwyk nie anders mag jong en onervare persone verward raak en dan is al die moeite tevergeefs. Geen verandering, al is dit ’n verbetering, moet geduld word nie.

Ons geëerde voorgangers het hierdie beginsel goed begryp, en gevolglik het hulle dieselfde weergawe van die Onse Vader, die Tien Gebooie en die Geloofsbelydenis gebruik. Ons behoort ook hulle voorbeeld na te strewe deur dieselfde leerstof aan die jeug en elke man in die straat oor te dra sonder om selfs ’n enkele lettergreep of woord te wysig wanneer dit aangebied of aangehaal word.

Bepaal self jou formaat en hou daarby. Sou dit gebeur dat jy aan ’n uitgelese gehoor die woord van God bedien, mag jy jou woordvaardigheid inspan en laat botvier. Wat jongmense betref, hou by ’n bepaalde, simplistiese formaat en woordkeuse en leer hulle eerstens die Tien Gebooie, die Geloofsbelydenis en die Onse Vader ensovoorts presies en woordeliks volgens die teks. Sodoende kan hulle dit nasê en onthou.

Diegene wat weier om te leer, moet vermaan word dat hulle Christus minag en nie aan Hom behoort nie. Hulle mag nie tot die sakrament toegelaat word, of optree as peetouers by die doop, of enige christelike vryheid gegun word nie. Hulle behoort lynreg na die pous en sy amptenare teruggestuur te word - ja, selfs na die duiwel self. Hulle ouers en oorgeskiktes behoort hulle die gewone lewensmiddele te ontsê en hulle vertel dat verbanning hulle in die gesig staar.

Ons kan nie en behoort ook nie die christelike geloof op iemand af te dwing nie. Nogtans kan ons mense aanmoedig en hulle lei om te leer wat reg en verkeerd is in die samelewing waarin hulle wil woon en werk. Die persoon wat in ’n bepaalde stad wil woon en die voorreg daarvan geniet, moet ook die stad se wette ken en gehoorsaam, of hy nou van hulle hou en of hy in sy wese ’n skurk is.

Tweedens, moet die betekenis van die teks verduidelik word nadat die inhoud van buite geleer is sodat die leerders verstaan wat hulle sê. Herhaal hierdie oefening met hulpmiddels van jou eie keuse. Hou dit egter steeds in gedagte dat geen wysiging aan die teks gemaak word nie. Dit is nie nodig om alles met een slag te leer nie, verkieslik een na die ander. Eers nadat die eerste gebod deeglik verstaan word, behoort na die tweede gebod oorgegaan te word anders mag hulle so oorweldig word en niks onthou nie.

Derdens, na onderrig uit die Klein Kategismus, kan voortgegaan word om met die Groot Kategismus, breër en ryker begrip te bring. Nou kan uitgebrei word op elke gebod, bede, gedeelte en ook die begrippe. Verklaar die betekenisse en wys op hulle gebruike, voordele, gevare en moontlike skade aan die hand van verklarings uit die vele boeke wat hierdie temas behandel. Lê klem op daardie gebod of enige deel van die kategismusleer wat verwaarloos word. Onder die ambagsmanne en handelaars, plaasboere en werknemers moet die sewende gebod, wat mense verbied om te steel, benadruk word, omdat baie maniere van oneerlikheid en diefstal onder hierdie mense voorkom. Net so moet vir die jeug en die gewone mens se onthalwe, die vierde gebod wat getrouheid, gehoorsaamheid en vrede aanmoedig, benadruk word. Maak ruimskoots gebruik van voorbeelde uit die bybel van God se straf of seën oor sulke mense.

Jy behoort in die besonder diegene in posisies van gesag sowel as ouers, aan te moedig om die jeug goed te beheer en kinders skool toe te stuur. Verduidelik vir hulle waarom dit hulle plig is, en verduidelik ook hoe verdoemlik hierdie sonde is, sou hulle hulle plig versuim. Wie nie hierdie pligte nakom nie, vernietig die koninkryk van God sowel as hierdie bedeling. Hulle bewys deur hulle versuim dat hulle die grootste vyande van God en mens is. Beklemtoon die skade wat hulle aanrig wanneer hulle hulle kinders nie laat onderrig en verhoed dat hulle later as herders en leraars, skrywers en dergelike, opgelei kan word, asook die straf van God oor hulle nalatigheid. Daar is groot behoefte dat oor hierdie sake gepreek word, want ouers en ander gesagsfigure is skuldig terwyl die duiwel ook slinkse planne het.

Laastens, noudat die pous se dwinglandy verby is, het mense nie meer behoefte aan die sakrament van die altaar nie, trouens, hulle verfoei dit. Weer eens behoort ons almal aan te spoor maar met die uitdruklike verstandhouding, dat niemand gedwing word om gelowig te wees, of om aan die sakrament van die altaar deel te neem hetsy deur wet, tyd of plek nie. Ons prediking moet sodanig wees dat mense uit eie beweging en nie op grond van ons aandrang, genoodsaak voel om die leraars te versoek om hierdie sakrament te bedien. Die aanslag moet sodanig wees dat almal vertel word dat, as iemand nie minstens vier keer per jaar behoefte het om aan hierdie sakrament deel te neem nie, dit ongelukkig die indruk skep dat so iemand nie ’n christen is, net soos iemand ook nie christen is wat die evangelie nie glo of hoor nie. Christus het nie gesê dat “dit weggelaat” of “dat versmaai” moet word nie. Christus het wel gesê: “Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” Hy wil beslis hê dat dit gebruik en nie verfoei word nie. “Gebruik dit” het Hy gesê.

Wie die sakrament van die altaar nie hoog waardeer nie, is gelykstaande aan iemand wat beweer dat hy geen sonde het nie, die ou mens nie in hom is nie, daar geen duiwel, geen aardse bedeling, geen gevaar en geen hel is nie. Hiermee sê die persoon dat hy in nie een van die dinge glo nie alhoewel hy deur hulle gevange geneem is en volkome onder satan se heerskappy staan. So iemand het dan ook geen behoefte aan genade, die ewige lewe, die koninkryk van die hemel, Christus, God, of enige iets anders wat goed is. Sou so iemand tog maar net weet hoeveel kwaad in hom skuil en hoe groot sy behoefte aan die goeie gawes is wat hom nou ontbreek, sou hy beslis nie hierdie sakrament verwaarloos wat hom soveel stukrag teen die kwade gee en met die goeie vul nie. Die teendeel sou dan waar wees, hy sou nie deur ’n wet tot die sakrament gedwing hoef te word nie, maar sou homself na die tafel van die Here haas, en daarop aandring dat jy die sakrament van die altaar aan hom bedien.

Moet geen wet oor die sakrament daarstel soos die pous gemaak het nie. Benadruk slegs die voordeel, die behoefte, die bruikbaarheid en die seën aan die sakrament verbonde, maar ook die skade en gevaar om dit te verwaarloos. Dan sal mense uit eie beweging kom en nie omdat jy hulle wou dwing nie. Indien hulle egter nog nie kom nie, laat hulle dan maar begaan, maar vertel hulle dat almal wat ongevoelig of onbewus is van hulle behoefte aan God se genadige bystand, kinders van die duiwel is. Indien jy nalaat om hierdie sake te noem of ’n wet daarvoor maak, volg bitterheid en is dit jou skuld indien die sakrament deur hulle verfoei word. Waarom mag hulle dan nie lui wees nie as jy slaap en swyg?

Herders en leraars, ons bediening huidig sien anders daaruit as vroeër onder die pous. Dit is nou ’n ernstige saak met verantwoordelikheid teenoor mense se saligheid. Dit behels nou veel meer moeite en arbeid, gevaar en beproewing en oes min van die wêreld se waardering of beloning. Maar Christus sal ons beloning wees as ons getrou en gelowig werk. Die Vader van genade sal ons ondersteun om hierdie taak uit te voer. Aan Hom die eer en dank, vir ewig deur Christus ons Here. Amen.